STILBAAI NUUS - 'n Verwaarloosde gedeelte van die gewilde voetpaadjie langs die Goukourivier is nou iets van die verlede nadat die Stilbaai Gemeenskapsforum die inisiatief geneem het om die gebied op te knap.
Die voetpaadjie, wat vanaf die buiteluggimnasium langs die rivier kronkel, verby Hulle by die See tot by die brug, is daagliks 'n gunsteling onder stappers, drawwers en ander inwoners van alle ouderdomme.
Met verloop van tyd het 'n gedeelte van die paadjie, naby Hulle by die See, egter ernstig verswak en 'n veiligheidsrisiko vir gebruikers ingehou.
Die Stilbaai Gemeenskapsforum het besluit om in te gryp. Danksy ruim skenkings vanuit die gemeenskap, asook die ondersteuning van Jongensfontein Beton Produkte, kon 'n kontrakteur aangestel word om die paadjie met plaveisel te herstel.
Die resultaat is 'n netjiese, veilige en gemaklike voetpad wat die ervaring van inwoners en besoekers aansienlik verbeter.
Volgens die forum is die projek nog 'n bewys van wat moontlik is wanneer plaaslike regering, gemeenskapsorganisasies, besighede en inwoners hande vat om Stilbaai verder te ontwikkel. Sulke samewerking verlig nie net die las op die Hessequa-munisipaliteit nie, maar dra ook by tot 'n mooier, veiliger en meer toeganklike dorp tot voordeel van almal wat hier woon of besoek aflê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’