RIVERSDAL NUUS - Die Hessequa-munisipaliteit, in samewerking met CASA (Chaplains Alert South Africa), het op Sondag 16 November 'n historiese Uniform Kerkdiens in Riversdal aangebied - 'n erediens wat eenheid, dankbaarheid en hulde aan die uniformdiensgroepe beklemtoon het, 'n eerste van sy soort.
Die diens het om 15:00 by die NG Moeder-gemeente in Kerkstraat plaasgevind.
Verskeie diensgroepe - insluitend polisie, wetstoepassing, brandweer, verkeersdepar-tement en Suidpunt Sekuriteit - het by Jurischpark vergader voordat hulle in 'n konvooi na die polisiestasie vertrek het.
Daarvandaan het die Royal Crusaders en die St. Andrews-blaasorkes die optog kerk toe begelei.
Die doel van die diens was drieledig:
- • Om dankie te sê vir lede se beskerming gedurende die jaar.
- • Lede geestelik voor te berei vir die komende feestyd.
- • Om hulde te bring aan lede wat hul lewens in diens van die gemeenskap verloor het.
Program vol waardering en geestelike diepte
Die Uniform Kerkdiens het 'n betekenis-volle program aangebied wat die rol van uniformdiensgroepe erken en die gemeenskap geestelik verenig het.
AGS Aloeridge het met lofprys en aanbidding begin, gevolg deur 'n simboliese intog van diensgroepe.
Voorwaarts Christen Stryders is gesing voordat ds. André Jordaan die gemeente verwelkom het.
Die Riversdal-kinderkoor het opgetree en Deon Lewis-Michaels het die doel van die diens toegelig.
Riversdal-burgemeester, Grant Riddles, het 'n boodskap van bemoediging gelewer,
terwyl brandweerhoof Daniel Dippenaar 'n kers vir jongmense en hul eksamens aangesteek het.
EMS se Doleen Prins het die openingsgebed gedoen en Danelle Botes het 'n sangitem gelewer.
'n Oomblik van herinnering en 'n klokseremonie is gelei deur kapelaan Solomons. Skriflesings is deur diensverteenwoordigers gedoen, waarna Solomons die hoofboodskap gelewer het.
Die verrigtinge is op 'n warm gemeenskapsnoot afgesluit met koffie, tee en eetgoed wat buite die kerk bedien is.
Die Uniform Kerkdiens word beskou as 'n mylpaal vir Hessequa - 'n viering van samewerking, geloof en diensbaarheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’