ALBERTINIA NUUS - 'n Historiese oomblik is Vrydag 21 November gevier toe die sooispitseremonie vir Albertinia se splinternuwe swembad amptelik plaasgevind het.
Die projek, met 'n beleggingswaarde van R15 miljoen, sal volgens Hessequa-burgemeester Grant Riddles in April 2026 begin en Desember volgende jaar voltooi wees.
Die swembad word deur Riddles beskryf as 'n belegging in ons mense, ons kinders en ons toekoms.
'n Projek wat nie net ontspanning moontlik maak nie, maar ook professionele sport, veiligheid en gesonde gesinsaktiwiteite sal bevorder.
Groot waardering is uitgespreek teenoor Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Ricardo Mackenzie, en Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, Isaac Sileku, vir hul teenwoordigheid en ondersteuning om ontwikkeling in die gemeenskap te bevorder.
Die munisipaliteit het ook alle raadslede, direkteure en amptenare bedank vir hul harde werk om die projek tot op hierdie punt te bring.
'n Spesiale huldeblyk is gerig aan raadslid Hendrik Saayman, wie se volgehoue poging en vasberadenheid 'n sleutelrol gespeel het in die verwesenliking van die droom.
"Jy het aangehou baklei toe dit moeilik was, aangehou hoop toe ander getwyfel het. Jou liefde vir Albertinia lê diep - hierdie oomblik dra jou handtekening," het Riddles gesê.
Riddles het afgesluit met 'n dankwoord aan elke lid van die gemeenskap wat die seremonie bygewoon het:
"Hierdie swembad is vir julle - vir ons kinders, gesinne, sport en 'n gesonder, gelukkiger Albertinia."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’