RIVERSDAL NUUS - Die 17-jarige Jana Geldenhuys, 'n gr. 11-leerder van Hoërskool Langenhoven, het verlede naweek 'n wonderwerk beleef - 'n nuwe hart en 'n nuwe kans.
Suid-Kaap Forum het met haar ouers, Danie en Alida, gesels oor die pad wat hulle geloop het - 'n pad van wag, hoop, trane en geloof.
Die oproep wat alles verander het
Op Saterdag 22 November, net voor 07:00, het Danie 'n oproep van die hartkoördineerder by Groote Schuur-hospitaal ontvang: daar is 'n skenker.
Hoewel dit nie hul eerste oproep was nie, was daar hierdie keer 'n ander gevoel - 'n vrede en sekerheid dat dit die regte tyd is.
Die gesin het blitsig gepak en Kaapstad toe gery.
Naby Somerset-Wes kom die tweede oproep: Jana moet direk teater toe - die skenker is reeds voorberei.
Teen 10:00 is Jana vir die operasie voorberei.
Die oorplantingspan het deur die dag gereeld telefonies terugvoer gegee.
Uiteindelik, om 21:30 die aand, bel die dokter: "Die operasie was suksesvol."
'n Jong lewe wat wou aanhou
Die afgelope maande het Jana se hart vinnig verswak.
Sy was vir 'n maand lank in die hospitaal, maar het nooit gekla nie. Alida vertel: "Jana het nooit gesê sy voel siek nie. Sy het net aanhou glimlag, aanhou grappe maak en aanhou glo."
Haar positiewe gees het selfs die hospitaalpersoneel se harte geraak.
Wanneer haar ouers by haar kamer instap, glimlag sy dadelik - al is sy aan masjiene gekoppel.
Die wonderwerk
Dokters het die ouers gewaarsku dat hulle gaan skrik as hulle Jana sien omdat sy aan masjiene gekoppel en onder sedasie is.
Maar vroeg Sondag kry Danie 'n oproep vanaf 'n vreemde nommer. "Pappa, dis ek - Jana. Kom hospitaal toe."
Binne 12 uur was sy wakker - 'n herstel so vinnig dat dokters dit skaars kan glo.
In die hospitaal terwyl Danie na die monitors kyk, sê Jana saggies vir hom: "Pappa, kyk hoe mooi klop hy."
Geloof
Vir die Geldenhuys-familie is hierdie 'n geloofsreis: "Tydens die operasie was daar net vrede. Geen angstigheid nie - net vreugde. Ons het gevoel hoe mense vir ons bid," vertel Alida.
Die gemeenskap van Riversdal en reg oor die land het soos 'n muur van ondersteuning gestaan.
Skole, kerke en vreemdelinge het gebel, gebid en bemoedig.
Die gebede het 'n pad van vrede oopgemaak - en die wonder het gebeur.
Pad vorentoe
Die herstelproses sal lank wees - gereelde toetse, opvolg-besoeke en mediese sorg lê voor.
Maar die gesin is positief: "Ons vat dit dag vir dag. Die dokters is uitstekend en God het al die pad saamgestap."
Wat die skenker betref, word min besonderhede bekendgemaak - behalwe dat dit 'n jong, fiks en sterk persoon was.
Die Geldenhuys-gesin moedig die gemeenskap aan om orgaanskenkers te word: "Een persoon kan sewe lewens red en dit vat net minute om te doen."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’