STILBAAI NUUS - Die graad R-klas van Laerskool Bertie Barnard het Vrydag 28 November hulle entrepreneursdag gehad en daar was eetgoed en aktiwiteite om van te kies en te keur.
Volgens Cecilia Nel, onderwyseres by die gr. R-leerders, het elkeen van die 36 leerders ’n stalletjie gehad en hulle het dit vir hulle eie sak bedryf.
Dit bring kinders al op ’n vroeë ouderdom in aanraking met entrepreneurskap en leer hulle die waarde van geld.
Natuurlik kon hulle dit nie alleen bedryf nie. Pappas en mammas en selfs die oupas en oumas het ingespring om te help en dit was behoorlik ’n miernes van bedrywighede.
Bertie Barnard se gr. 6-leerders asook Paideia het kom ondersteun en hulle kon nie die soetgoed weerstaan nie.
Die groot slagoffers was natuurlik die pa's en ma's asook oupas en oumas, want hulle het nie kans gekry om hulle beursies weg te sit nie.
Die gr. R-klas is nie by die skool nie, maar wel by Pikkewouter-kleuterskool en die kleuters het ook hulle deel gedoen om die entrepreneurs se beursies te vul.
’n Hele paar van Berties se graadsesse het hulle skoolloopbaan daar begin en by van hulle was daar nogal heimwee.
Ekard Steyl het gesê dat hy dit mis, want toe hulle daar was het hulle net gespeel, daar is nie veel gewerk nie.
’n Heel suksesvolle oggend met natuurlik die gepaardgaande sugar rush is gou verby en al waar die kinders se gedagtes nou was, is die Desembervakansie se luilekker sorgvrye dae.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’