Update
HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit het vanjaar hul vyfde agtereenvolgende skoon ouditverslag vir die 2017/2018 finansiële jaar ontvang.
Die ouditeur-generaal het hul fokus op drie hoofaspekte tydens hul ondersoek geplaas: Finansiële bestuur, prestasiebestuur - toepaslike wetgewing ingesluit en regulasies.
Munisipale bestuurder Johan Jacob het gesê: "'n Skoon oudit beteken onder meer dat die finansiële state 'n redelike weerspieëling van die finansiële stand en prestasie van die munisipaliteit is en dat die prestasieverslaggewing in orde was. Dit is die hoogste toekenning wat 'n munisipaliteit van die ouditeur-generaal kan ontvang."
Hy noem dat die munisipaliteit nie net op koers bly nie, maar dat goeie leierskap en bestuur getoon word.
"Dié toekenning toon die verbintenis van die personeel om dienste van hoë gehalte te lewer, asook hul toewyding tot goeie bestuur en nakoming van wetgewing. Dit bewys dat die munisipaliteit daarin geslaag het om beginsels en prosedures te inkorporeer, om dissipline en stabiliteit te handhaaf in die munisipale omgewing. Die ouditeur-generaal se fokus is besig om te verskuif van slegs die oudit van finansiële state tot die vasstelling en bewyslewering of kwaliteit dienslewering plaasvind."
"Die manier hoe die ouditeur-generaal ondersoek instel, raak elke jaar net meer intensief en rus die onus op munisipaliteite om te bewys dat die begroting op die regte plekke spandeer word en die belastingbetaler waarde vir hul geld ontvang."
Uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, noem dat dit die munisipaliteit se hooffunksie is om ons gemeenskap te dien. Hy sê dat hulle deurentyd daarna streef om dienslewering te verbeter en te voldoen aan die vereistes van 'n skoon regering. "Om 'n skoon oudit te bekom is 'n uitdaging, maar om dit te behou, is 'n groter uitdaging. Welgedaan aan die munisipale amptenare vir hul harde werk en die kwaliteit dienslewering vir die gemeenskap en besoekers."
Lees 'n vorige artikel: Hessequa-Munisipaliteit: Vyf en nog nie uit nie
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'