Update
STILBAAI NUUS - Aktiewe buurtwagte is 'n hoeksteen in gemeenskapsveiligheid.
Dit is die mening van Pieter Lategan, hoofkoördineerder van buurtwagte in Stilbaai, Jongensfontein, Melkhoutfontein en omgewing.
Op die oomblik bestaan die groep uit 10 buurtwagte, met 'n elfde een vir Under Milkwood en Tollas Oord in Stilbaai wat binnekort gestig gaan word.
Lategan beskryf buurtwaglede as die oë en ore van die polisie. Hoewel die polisie die primêre wetstoepassers bly, kan hulle nie oral wees nie. Gereelde buurtwagpatrollies is dus van onskatbare waarde in die beveiliging van die gemeenskap.
Enigiemand is welkom om by hul plaaslike buurtwag aan te sluit. Daar is geen vereistes waaraan eers voldoen moet word nie. Buurtwaglede se rol is slegs om waar te neem en verdagte gebeure by die polisie aan te meld.
Lede se voertuie sal binnekort met duidelik herkenbare wit plakkers toegerus word, asook met 'n flitsende wit lig vir die dak. Patrollies word dag en nag gedoen en nie op vasgestelde tye nie.
Volgens Lategan is een van die groot projekte wat binnekort aangepak sal word, die skoonmaak van alle wandelpaaie. Dit sal in samewerking met die polisie en Hessequa-munisipaliteit gedoen word.
"Die doel van die buurtwag is om die lewenskwaliteit van hierdie omgewing te behou, tot voordeel van alle inwoners," noem Lategan.
Lees 'n vorige artikel hier: Buurtwagte voordelig vir inwoners
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'