STILBAAI NUUS - Suid-Kaap FORUM het inligting ontvang dat sommige mense skilpaaie as troeteldiere aanhou.
Dié kusdorp spog met 'n habitat waar twee van die skaarste skilpaaie in die wêreld voorkom, naamlik die padlopertjie en rooipens/ploegskaar-skilpad (Chersina Angulata). Die skaars padlopertjie (Homopus Areolatus) word slegs 10cm groot en word in die suidwestelike kusstreke van die Wes-Kaapse provinsie aangetref.
Volgens wet mag geen skilpaaie versamel, as troeteldiere aangehou, geskenk, verkoop, ingevoer of uitgevoer word sonder toestemming nie.
Spesiale permitte is beskikbaar by jou naaste bewaringkantoor. Moenie 'n skilpad wat oor die pad beweeg huis toe neem omdat hy 'verlore' lyk en jy hom jammer kry nie. Sit hom liewer langs die pad in die veld neer, in die rigting waarheen hy op pad was. Om 'n skilpad uit sy habitat te verwyder teken jy dadelik sy doodsvonnis.
Die Wes-Kaap is nie net die tuiste van die wêreld se kleinste skilpad, die suidelike klipskilpad nie, maar ook van Afrika se tweede grootste landskilpad, die bergskilpad. Dit is die enigste woonplek van die wêreld se skaarste skilpad, die suurpootjie.
Volgens die skilpadsensus is daar 43 soorte landskilpaaie in die wêreld, waarvan 13 soorte in Suid-Afrika aangetref word. Agt kom voor in die Wes-Kaap en twee soorte kom nêrens anders in die wêreld voor nie.
Die spesie is wêreldwyd in die knyp, want hul habitatte word deurgaans bedreig deur stedelike- en boerderyontwikkeling, te veel brande, die onbeheerste verspreiding van uitheemse indringerplante, swak grondgebruik en die onwettige handel in reptiel troeteldiere.