NASIONALE NUUS - “Na die wegholsukses van verlede jaar se eerste Uitkampteater, is die aanbod vanjaar groter met meer kunsvorme en genres”, sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, wat van 8 tot 15 April op Oudtshoorn aangebied word.
“Uitkampteater het nou twee tuistes – agt tentjies voor die Absa Burgersentrum en twee by Arbeidsgenot, die nuwe area vir kindervermaak. Danksy die ondersteuning van die Koninklike Nederlandse Ambassade, Pretoria sluit dié uitgebreide baadjie twee produksies deur Nederlandse kortkunsspesialiste, opwindende werke deur jong en gevestigde teatermakers en die Eden Dramafees se wenproduksie in”, sê sy.
“Diep en Wentel besoek die KKNK vanuit Nederland en beloof om jou wêreld om te keer”, vertel Snyman. Diep is nieverbale teater met Daan Mathot en Jan-Joost Alberts, wat smokkel met jou kop. Goed val van bo na onder in hierdie interessante optiese illusie. Wentel is ruimtelike teater met Sonja Volmer en Dagmar Geerlings, wat jou die wêreld uit ’n nuwe perspektief laat sien. Kom loop op boom-takke en in die wolke, met behulp van ’n eenvoudige apparaat.
Twee dramas word aangebied waaronder Afsnypunt, deur die wenners van die Eden Dramafees in 2016 en Sandra se laaste show met Igna Botha. Afsnypunt met Brutney Singrew, Llewellyn Bond en Samuel Jumat vertel die storie van ’n ongehoorsame jong man, wat deur sy ouers in ’n kamer toegesluit word. Die vertrek is gevul met ’n klomp poppe en interessante dinge gebeur. Sandra se laaste show vertel die storie van ’n vrou wie se grootste droom was om ’n teateraktrise te wees, maar haar lewensomstandighede laat dit nie toe nie.
Word ’n koei en ontsnap jou quarter-life crisis is ’n sketskomedie deur Llandi Beeslaar (bekend as Mielie van Keeping up with Marinda uit die Republiek van Zoid Afrika) en vertel die storie van ’n vrou in haar laat-twintigs. Met haar hoërskoolreünie wat voorlê, is daar nie veel om oor te brag nie. Kom lag saam soos sy komiese stories van ouer, vetter én somtyds maller word, deel.
Bekroonde teatermaker Nico Scheepers behartig die teks, ontwerp en regie van Die toringvrou, poppeteater met Nieke Lombard. Dit is ’n magiese reis van herinnering en nostalgie, wat baie hase uit die hoed pluk om die storie te vertel. Tweespalt is ’n narrespel met Jazzara Jaslyn en Klara van Wyk, ’n verhaal van twee misplaaste, ewig kibbelende sibbe, wat weggehardloop het van hul miserabele lewe.
Buhle Ngaba is te sien in The Swang song, ’n fisiese teaterstuk wat swanesang as ’n metafoor gebruik om ’n vrou se liefdes-herinnering as ’n emosionele en fisiese siekte uit te beeld. Die gehoor bevind hulself in ’n nes en is ooggetuies wanneer dié sterwende swaan vir die eerste keer met die wêreld in gesprek tree. Ngaba is deur die Mail & Guardian geïdentifiseer as een van die 17 individue wat in 2017 hulle aandag het. Dié stuk word aangebied ter nagedagtenis aan Brett Goldin, wat tien jaar gelede in Kaapstad vermoor is.
Hierdie agt stukke word daagliks van 10:00 tot 12:00 en van 15:00 tot 19:00 voor die Absa Burgersentrum in Baron van Reedestraat aangebied. Kaartjies kos R20 en kan vooraf in die straat gekoop word.
“Ons bied ook vier opwindende Uitkampteaterstukke vir kinders by Arbeidsgenot, die nuwe tuiste vir kindervermaak, en ons moedig mammas en pappas aan om die kleinspan hierheen te neem om teater in dié formaat te beleef”, sê Snyman. Volgens haar is Uitkampteater die perfekte manier om die jongspan aan teater bloot te stel.
Cindershoeler met Jurgen McEwan, Caleb Peter en Kurt Jonas begin en eindig soos enige ander kinderstorie, maar gaan die verskillende skoene wat op ’n jong dogtertjie wag, verskillende wendings in haar avontuur bring? McEwan, Peter en Jonas se nieverbale teater In die woud, neem die gehoor op reis deur die natuur in ’n ontdekkingstog met natuurklanke in die storie verweef.
Die kindervermaak-produksies word daagliks van 09:30 tot 15:00 by Arbeidsgenot aangebied. Kaartjies hiervoor kos R20 per produksie en kan voor vertonings gekoop word.
Uitkampteater is vanjaar met die Fiëstas se Blou Stoel bekroon en was volgens die Fiëstapaneel verantwoordelik vir “die mees opwindende teaterervaring van 2016.”