In Weerklink van ’n wanklank – ’n eenman memoir kyk Pieter-Dirk Uys, wat vanjaar met die Kunste Onbeperk Kruispunt vereer word, terug na die padwysers wat hom onbewustelik deur sy lewe in die regte en ’n oorspronklike rigting gestuur het. Uys, nou in sy 71ste jaar, se meer as 7 000 solovertonings het hom geleer dat elke optrede die eerste én laaste is, want elke gehoor vereis en ontvang ’n ander energie.
Jason Jacobs, vanjaar vereer met die Kunste Onbeperk Nuwe Stem, behartig die teks, regie en ontwerp van In wag van, waar toegewyde geloof trompop teen vrees vir die dood te staan kom. Jacobs het ’n Theatre Arts Admin Collective-beurs vir regie met dié stuk gewen. In die rolverdeling is Gantane Kusch, Courtney Smith, Gershwin Mias en Vathiswa Nodlayiya.
Jacobs behartig ook die teks, regie en ontwerp van Kalahari Swaan, geïnspireer deur Tsjaikowski se Swanemeer. Dié drama vertel die storie van ’n jong mynwerker wat droom van ’n beter lewe vir hom en sy gesin en besoek met dans en poësie verskeie magiese ruimtes wat by die samelewing spook. Gershwin Mias, Kaylin Coetzee, Dustin Beck en Nina Callaghan is hierin te sien. Beck is ook te sien in Jacobs se solo dans-drama, Stof Rooi.
Debuutdramas sluit nuwe tekste van bekroonde skrywers Tertius Kapp en Neil Coppen, asook een van Suid-Afrika se mees bekroonde en gerekende skrywers, Reza de Wet in.
Anna-Mart van der Merwe, Brendon Daniels, Wilhelm van der Walt en Tarryn Wyngaardt is te sien in Kapp se nuwe drama Liewer, onder regie van Jaco Bouwer. Liewer kyk na die verstrengelde lewens van vier mense en soos Kapp dit beskryf: “tussen hedonism en sinisme, dierlikheid en dierbaarheid word nuwe moontlikhede vir teerheid ontgin.”
Coppen se Buite Land is ’n kontemporêre verhaal oor twee mans uit verskillende kulturele agtergronde, wie se lewens diepsinnig vervleg word. Jacques Bessenger is te sien in die hoofrol, met veteraan-aktrise Elize Cawood as sy ma. Die geselskap sluit ook vir Kopano Maroga, Ntombi Gasa, Mpume Mthombeni en Marvin-Lee Beukes in.
Asem is ’n vertaling deur Marthinus Basson van Reza de Wet se Breathing In. De Wet het in 2004 die Fleur du Cap-prys vir beste inheemse teks hiervoor ontvang. Basson behartig ook die regie en ontwerp. De Wet verweef digterlik en kragtig ’n verhaal van liefde teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse-oorlog, en omskep die alledaagse in die uitsonderlike. In die rolverdeling is Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt.
Koöperasiestories met onder andere Chris van Niekerk, Marion Holm en Margit Meyer-Rödenbeck bring die wel en wee van Mietie, Veldsman, Genis en hulle dorpsgenote na die verhoog. Pa maak vir my ’n vlieër pa word as tydlose huldeblyk aan Chris Barnard opgevoer en handel oor ’n middeljarige man wat sy sieklike moeder vir jare versorg, nadat ’n vreemdeling haar van die dood gered het. Die aangrypende drama laat reg geskied aan Barnard se ryk nalatenskap. Met Sandra Prinsloo, Waldemar Schultz en Wilhelm van der Walt, onder regie van Albert Maritz.