STILBAAI NUUS - Dit was Dinsdag 11 No-vember die landbougroep van Stilbaai VLV se beurt om die jaarafsluiting aan te bied en hulle het op 'n swembadpartytjie as tema besluit.
Die Waenhuis by Jagersbosch was 'n feestelike toneel met strandsambrele, strandballe, veelkleurige handdoeke en mooi groen en rooi koeldrank op die tafels.
Die gaste het lekker saamgespeel en in stranddrag opgedaag, mooi hoede en groot sonbrille inkluis.
As gasspreker het hulle vir Anton Cheva-lier gehad wat bietjie raad gegee het oor die tipe plante wat jy in jou tuin behoort te hê en dan natuurlik ook watter plante jy glad nie moet of mag plant nie.
Chevalier het 'n broertjie dood aan bome en struike wat van ander dele van die land af gebring word en dan hier in Stilbaai in tuine en ontwikkelings beland.
Hy bevorder voortdurend die aanplant van endemiese bome en struike en wil sien dat die melkhoutboomwoude van toeka weer hier gevestig word.
'n Heerlike hoenderpasta met slaai het die gaste vir 'n ruk besig gehou en toe het Louise Jansen botteltjies met makadamia-olie uitgedeel.
Agter in die saal was 'n tafel met verskil-lende lekker goed onder meer roosmaryn, knoffel, brandrissies en peperkorrels wat die gaste dan self na smaak by die olie kon voeg.
Marlene Erasmus, het nuusbrokkies van die gemeenskapspolisiëringsforum met die gaste gedeel en veral klem gelê op internetbedrog en die skade wat dit aanrig.
Nadat Carol Scott haar bestuur en al die lede bedank het vir hulle goeie gesindheid en harde werk deur die jaar het die 86-jarige Rona Nel 'n opgewonde roering deur die saal gestuur toe sy in 'n swembroek, sarong, swempet en armpies vinnig deur die saal gedartel het.
Die Stilbaai VLV is 'n lewendige groep vroue wat beslis nie net bymekaarkom om tee te drink nie.
Met elke vergadering het hulle spesifieke temas wat behandel word en gewoonlik kry hulle kenners vanuit die gemeenskap om te praat.
Verder doen hulle ook liefdadigheidswerk in die gemeenskap en hulle besoek byvoorbeeld Huis Stilbaai om vir die inwoners te sing en om iets goeds te doen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’