STILBAAI NUUS - CapeMog se toer in die Suid-Kaap het op 9 November begin en eindig Vrydag 14 November met 'n galageleentheid in Knysna.
CapeMog is die Wes-Kaapse tak van die Suid-Afrikaanse Morgan Eienaars Groep wat op sy beurt weer geaffilieer is aan die Morgan Sportmotor Groep.
Die doel van hierdie klub is om die plesier van ry met 'n Morgan-sportmotor met sosiale interaksie tussen eienaars en gesinne van die sportmotors te bevorder.
Hulle hou dus gereeld sosiale geleenthede in en om Kaapstad, maar die hoogtepunt is die jaarlikse sesdaagse toer in die Wes-Kaap.
Lidmaatskap is oop vir alle Morgan-eienaars en ook vir hulle wat nie tans 'n Morgan besit nie, maar wel groot Morgan-entoesiaste is. In die klub is daar van 'n 1918 Grand Prix-driewiel tot 'n 2019 Aero 8 met 4-, 6- en 8-silindermotors tussenin.
In die afgelope 17 jaar was daar al 16 jaarlikse toere en dit was net Covid wat hulle in 2020 by die huis gehou het.
Die jaarlikse toer is die geleentheid waar Morgan-eienaars van regoor Suid-Afrika ontmoet, netwerk en in 'n informele, gemaklike omgewing gesels.
Vanjaar is daar selfs iemand van die buiteland wat 'n plaaslike entoesias se motor geleen het en ook saam toer.
Hierdie toere gee hulle die geleentheid om die gemeenskappe waardeur hulle ry beter te leer ken, 'n unieke motor te vier, die pragtige Wes-Kaap te waardeer, kameraderie en ook om die publiek die kans te gun om hierdie unieke sportmotors van naderby te beskou.
Besoek aan Stilbaai
Tydens die 2025 toer was die groep Maandag 10 November in Stilbaai en hulle het die Blombos Museum van Argeologie besoek waar Sanet van Deventer hulle meer vertel het van Stilbaai se oerverlede.
Daarna het Elvena Petersen en Amoré Franken van Stilbaai-toerisme hulle deur die palingvoertoer geneem en Sanet van Deventer het vir hulle die visvywers gaan wys.
In Stilbaai-Oos het hulle 'n spesiale fotogeleentheid vir Stilbaai se fotograwe geskep deurdat die motors voor die muurskilderye teen Dewan's se mure geparkeer het.
Dit het nogal baie nuuskieriges gelok wat die motors van naderby kon bekyk en ook met die eienaars kon gesels.
Hierdie motors se pryse wissel natuurlik van enigiets tussen R1,5 miljoen tot R3,7 miljoen en selfs meer.
Hulle Stilbaai-toer is afgesluit met 'n middagete by Oudewerfskloof waar Dave's Kitchen hulle onthaal het.
Goukam Health APD in Riversdal
Op hierdie toere samel hulle ook geld in vir liefdadigheid en vanjaar gaan die geld wat hulle insamel vir die Goukam Health APD in Riversdal.
Goukam is begin deur dr. Alison Madden vir persone met breinbeserings, maar hulle missie is om mense met 'n gebrek te help en ondersteun waar hulle kan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’