Hessequa munisipaliteit (lug kwaliteit), die verkeersdepartement, tesame met 'Eden Air Quality' het op 11 April tydens 'n inter-departementele en regering vennootskap projek verskeie voertuie getoets vir oormatige rookuitlating.
Riversdal, soos meeste van die rustige dorpies in die Eden distrik is geïdentifiseer as 'n potensiële area waar die moontlikheid bestaan dat veral voertuiguitlating (uitlaatgasse), problematies kan raak weens die hoë volume verkeer op die N2 snelweg. In Riversdal se geval is dit egter meer pertinent die geval met die N2 wat regdeur die dorp loop.
Weens dié feit is die N2 suid juis geteiken tydens die projek.
Eerstens is voertuie deur 'n visuele toets gesit, indien die toets oormatige rook aandui, is daardie voertuig verder getoets met 'n voertuig rook toets instrument. Negentien diesel swaarvoertuie is getoets en het slegs twee die visuele toets gefaal. Susan Vosloo, media woordvoerder vir Hessequa verduidelik die proses.
"Twee rook toetse is gedoen met beide voertuie wat die toets geslaag het. Dit was duidelik dat die groter voertuie beter onderhou word as kleiner voertuie wat meer problematies was".
Die projek is volgens Vosloo positief ontvang deur bestuurders van voertuie en het gedien as 'n platform vir soortgelyke toekomstige projekte. "Een van die hoof doelstellings van die projek was om die publiek bewus te maak van voertuig uitlatingstoetse in Hessequa asook om die effek daarvan op die omgewing te minimaliseer".
'n Reg tot skoon lug
Elke persoon het die reg tot skoon, vars lug. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning en sy departement is proaktief om die uitdagings van lugbesoedeling te aanvaar en is sedertdien aktief betrokke in verskeie programme om lug kwaliteit te bestuur. Een van die projekte het nou uitgeloop tot die Lug kwaliteit bestuurplan vir die Wes-Kaap. Die bestuurplan sal die ontwikkeling van lug kwaliteit inisiatiewe lei met die doel om te verseker dat die lug wat ons inasem voldoen aan nasionale lug kwaliteit standaarde.
FOTOGALERY
Mnr. Schoeman doen 'n toets op 'n swaarvoertuig.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'