RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike Vroue-Landbouvereniging het onlangs hul program vir vanjaar hervat.
Anneke Oosthuizen, 'n onderwyser van George, het namens die kultuur en handvlyt-afdeling meer oor die ou Tolhuis in die Montagupas vertel.
Die gebou is in 1840 met 'n interessante vorm gebou.
Oosthuizen vertel: "Oor die jare het die leë gebou baie verwaarloos. Boemelaars het daar geslaap, plunderaars het geelhoutbalke en vensterrame weggedra."
'n Jaar lange vriendin van haar, Gerda Stols en haar man het 25 jaar gelede begin om dié agteruitgang stop te sit en 'n vereniging, Vriende van die Tolhuis gestig. Die Kaapse Erfenistrust en natuurbewaring het ook na drie jaar se pleidooie deur Stols betrokke geraak. Al die bemiddeling het gesorg dat dit weer opgebou en toegerus is.
"Tol is per dier betaal. 'n Pennie per hoef, maar 'n witvoet was verniet," het sy bygevoeg.
Dié huis was met 'n 16-sitplek tafel, klavier en kosbare oudhede toegerus.
"Saterdae is pannekoek en koffie vir 'n donasie bedien. Daar is reeds 'n troue, doop en troosdiens gehou. Toe kom Oktober 2018 se bergbrande en die tolhuis het gegaan..."
Stols was geskok, maar slegs 'n week na die brand het hulle weer langs die murasie gestaan en pannekoek gebak.
Enigiemand wat kan help om die tolhuis weer op te bou kan Stols skakel by 082 772 8252.
Die binnekant van die bekende Tolhuis voor dit deur 'n brand verwoes is.
Slegs die struktuur van die tolhuis het staande gebly nadat dit deur ’n verwoestende vuur vernietig is.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'