Update
STILBAAI NUUS - 'n Nuwe inwoner se vinnige optrede het Sondag 17 Februarie waarskynlik 'n Skotse toeris se lewe gered.
Haar vriendin is deur twee jongmense met 'n lyfplank en branderplank gered.
"Ek het saam met my seun geswem en toe ek uit die water stap, het ek gesien twee vroue is in die moeilikheid," het Leon Muller (61) Maandag 18 Februarie aan Suid-Kaap Forum vertel.
Hy het in Desember verlede jaar hierheen verhuis. Volgens Muller het hy en sy seun Daon (12) by Lappiesbaai se strand geswem. "Ek het die afgelope drie, vier dae las van 'n pynlike skouer en ek was moeg geswem. Ek het my seun gewaarsku teen die sleurstrome en is terug strand toe."
Toe hy op die strand kom, het hy gesien twee vroue is in dieselfde sleurstroom vasgevang. "Ek het dadelik ingeswem om hulle te gaan help. Ek het een van hulle bereik, maar ek was baie moeg en duiselig en het self amper verdrink, maar ek het haar gehelp om op 'n sandbank te kom. Toe ons by die strand kom, het sy naarstiglik na haar vriendin gesoek."
Twee ander baaiers met onderskeidelik 'n lyfplank (boogie board) en branderplank het die ander vrou te hulp gesnel en haar uit die water gehelp. "Ek het ook 'n branderplank en lyfplank by my gehad, maar was te haastig om te gaan help om nog daaraan te dink," het hy gesê.
"Volgens die twee jongmense het die dokter gesê die ander vrou was baie na aan verdrinking. Sy is in die hospitaal vir waarneming opgeneem."
- Volgens 'n NSRI-mediaverklaring wat Sondagaand uitgereik is, was daar Saterdag 16 Februarie ook twee ander voorvalle waarop hulle reageer het. 'n Bemanningslid van 'n vistreiler wat erge maagkrampe ondervind het, is aan boord hul reddingsvaartuig Colorpress Rescuer aan wal gebring. 'n Bemanningslid van nog 'n vaartuig wat beseer is toe 'n aansteker klaarblyklik in sy hand ontplof het, is behandel nadat NSRI-bemanning in 2,5 m deinings aan boord gegaan het.
Die publiek word gewaarsku om uiters versigtig te wees tydens springgety wanneer seestrome weens die besonder hoë gety baie bedrieglik kan wees.
Lees 'n vorige artikel hier: Skotse vroue uit branders gered
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'