HEIDELBERG NUUS - 'n Groot, dog opwindende stryd wag Saterdag 14 April op die onoorwonne Heibi-rugbyklub wanneer hulle die gedugte Crusaders tuis pak.
Die tuisspan het vriend en vyand verras toe hulle beide hul eerste twee tuiswedstryde teen onderskeidelik Silvers Stars en Barbarians gewen het. Hul wegwedstryd teen Blanco is uitgestel omdat laasgenoemde se veld nie beskikbaar was nie.
Groot belangstelling heers in die wedstryd omdat die besoekers 'n Heidelberger, Dean Hopp, in hulle geledere het. Hopp, 'n voormalige SA o.20, asook SWD Arende-haker sal sekerlik 'n gemerkte man onder sy tuisdorp spelers wees.
Die tuisspan sal egter hulself 'n groot guns bewys deur nie te veel op Hopp te konsentreer nie en meer op hul eie sterk punte te fokus.
'n Harde wedstryd word verwag, aangesien beide spanne van hardlooprugby hou.
Die eerste wedstryd tussen die derde spanne begin om 13:30 en hier sal die tuisspan hul eerste wen wil aanteken.
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'