RIVERSDAL NUUS - Wat 'n doodgewone landing op Riversdal se vliegveld moes wees, het amper Woensdag, 13 Januarie ontaard in 'n botsing tussen 'n bakkie en 'n gyrocopter.
Craig Boswell, vlieënier van die gyrocopter, vertel: "Met my terugkeer van 'n uitvlug na Ceres toe ek wou land, gewaar ek ‘n wit bakkie op die aanloopbaan. Die persoon was duidelik besig met bestuurslesse. Die dame aan die stuur het haar boeglam geskrik toe ek van agter oor hulle vlieg om hulle te waarsku om die aanloopbaan te ontruim sodat ek kon land!
Volgens Boswell is die vliegveld al ’n geruime tyd weer in gebruik deur die huurders (’n lugvaart maatskapy, Rivaero), asook die algemene lugvaartbedryf en is hierdie maar een van 'n paar gevalle waarby ongemagtigde persone op die vliegveld betrokke was.
Hoewel daar huidiglik geen heinings rondom die vliegveld is nie, word die publiek versoek om nie die vliegveld of die aanloopbaan te betree nie. Volgens Boswell is die huurders, met die samewerking van die munisipaliteit, in die proses om wel die vliegveld te omhein.