Gallery Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Wilde vyeboom, ook bekend as die Fluisterboom of ficus burkei, het tydens 'n spesiale funksie Maandagaand 14 Augustus kampioenboomstatus vanaf die departement landbou, bosbou en visserye ontvang.
Die funksie het op die plaas Voëlroepersfontein plaasgevind. Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, rdl. Ivan Mangaliso, sakelui en uitgenooide gaste was teenwoordig.
Riddles het die eienaar van die boom, Marietjie Coetzee, vir haar passie en deursettingsvermoë bedank dat sy daarmee vir Albertinia stewig op die toerismekaart geplaas het.
"Dit is verblydend om die belangstelling in die geleentheid te sien met sakelui en verteenwoordigers vanuit die toerismesektor. Ek is verheug oor die munisipaliteit se positiewe reaksie op u versoek en veral Johan Jacobs se bydrae hierby. As munisipaliteit is dit ons taak om toerisme- en werkskepping wat daardeur bewerkstellig word, te ondersteun."
Die Fluisterboom, wat volgens oorvertelling fluister as jy aandagtig luister, is een van twee groot wildevyebome op die plaas wat nou met dié besonderse status spog. Dit het 'n verstommende omvang en amper onaardse voorkoms weens die talle lugwortels wat grondwaarts groei.
Die stamomtrek is ongeveer 14,6 m en 4,67 m in deursnee.
Dit is tans een van die 10 dikste bome in Suid-Afrika. Vir kampioenstatus word die stamgrootte, boomhoogte en kroondeursnee in ag geneem, asook die algehele grootte indeks waarin al drie kriteria deur 'n formule gekombineer word.
Min wildevye het sulke enorme afmetings, wat dié Fluisterboom meer uniek maak. Die ouderdom word op sowat 200 jaar geraam. Coetzee verduidelik dat die boom 'n besonderse impak op besoekers het weens die voorkoms daarvan.
Die departement het die projek van stapel gestuur om bome waardig vir beskerming te identifiseer. Kampioenbome geniet nasionale beskerming weens hul uitsonderlike grootte, ouderdom, kultuur en historiese waarde.
Van die gaste wat die geleentheid bygewoon het. Foto's: Heinrich Fortuin.
Lees 'n vorige nuusflits: Fluisterboom kry kampioenstatus
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'