RIVERSDAL NUUS - Rut Gouws, 'n gr. 8-leerder en uitstekende sweefskiër (kite surfer) van Hoërskool Langenhoven en haar spanmaat, Terje Groenewoud van Kaapstad, is deur die Suid-Afrikaanse sweefski-vereniging (Saka) aangewys om Suid-Afrika by die kwalifiserende byeenkoms vir TTR (TwinTip Racing) vir die Jeug Olimpiese Spele in Dahkla, Morokko, in Februarie 2018 te verteenwoordig.
Tydens hierdie byeenkoms sal een seun en een dogter gekies word om Afrika by die spele in Oktober 2018 in Argentinië te verteenwoordig. As voorbereiding vir hierdie byeenkoms het Gouws in Julie 'n oefenkliniek onder leiding van Steph Bridge (vyf keer wêreldkampioen) bygewoon.
Die kliniek is in Italië aangebied en deur jongmense van oor die wêreld bygewoon. Dit was uiters leersaam, aangesien TTR 'n nuwe dissipline by die spele is en daar baie reëls en tegnieke betrokke is. Die omstandighede is ook baie anders aangesien sy in Suid-Afrika aan sterk winde gewoond is en hulle daar moes leer om met swak wind en groot vlieërs te kompeteer.
Hierna het die Europese kampioenskapsreeks gevolg. Die kompetisie was baie sterk en ryers van 21 lande het deelgeneem. Onder andere die Amerikaanse- en Chinese kampioene.
Die kompetisie het 'n week geduur wat uit 'n klomp slalomwedvaarte bestaan het. Soms moes daar ook tydens die wedvaart oor voorwerpe gespring word. Gouws het haar baie goed van haar taak gekwyt en het 'n paar keer tot die finale ronde deurgedring.
Dit was baie goeie blootstelling en voorbereiding vir Morokko. Sy is genomineer as die junior sportvrou van die jaar vir die Kaap Metro.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'